As dit ’n mens se werk is om ’n straatveër te wees, moet jy dit beskou as ’n roeping beskou en dan die strate vee met dieselfde passie as waarmee Michelangelo geskilder, Beethoven gekomponeer of Shakespeare geskryf het. Jy moet die strate só skoon hou dat mense en engele stilstaan en uitroep: “HIER HET ’N MAN STRATE GEVEE WIE SE WERK SY EER IS!”

By die Abraham Kriel Kinderhuis Nylstroom beskou ons dit as ons roeping en is dit voorwaar vir ons ’n eer om ons 170 kinders ’n tweede kans in die lewe te gee. Daarom wil ons elke donateur bedank en eer vir die verskil wat hulle in ons kinders se lewens maak; sonder hulle sal ons werk nie moontlik wees nie.

Nasionale Boomplantdag word elke jaar gedurende die eerste week van September gevier. Die nuwe seisoen is hier. Lente bring hoop vir ’n blink toekoms en dit is wat ons kinders dié jaar moet ervaar. Op 1 September 2020 het ons kinders met grawe en spitwerk as’t ware nuwe lewe aan 20 pekanneutbome gegee wat later na ongeveer 200 bome met die hulp van mnr. Ivan Otto van Limpopo Pecan Growers sal uitbrei.

Baie geleenthede was ongelukkig gekanselleer as gevolg van Covid-19, maar die Spar Women’s Challenge het besluit om virtueel aan te gaan. JacarandaFM se Good Morning Angels en Spar Woman’s Race was engele vir een van ons kinders, Sanet Basson. Sy is ook die rede vir die tema van vanjaar se wedloop wat gemik is op die stryd teen geslagsgebasseerde geweld. Verteenwoordigers het besluit om op 26 September saam met Dianne Broodryk en Retha Ingelbleeck die kinderhuis te kom besoek om kospakkies te bring en die geleentheid groter te maak. Ons was in totaal ongeveer 200 deelnemers wat saam gestap het. Die tema was “Spread the Sunshine” en ons het behoorlik sonskyn versprei deur saam as ’n kinderhuis teen geslagsgebasseerde geweld op te staan.

Op 9 September 2020 is ons kinders se tande deur dr. Pinheiro ondersoek. Ná die ondersoeke is daar besluit wattter prosedures verder nodig is.  Die werk aan verskeie kinders se tande is toe onder narkose by Cure Day Hospital Midstream gedoen.  Die kinders is verras deur ‘n “Towenaar” en met geskenkpakkies met allerhande interessanthede en ook ‘n kospakkie bederf.  Hierdie is ‘n jaarlikse skenking, maar ons het gedink dat dit weens Covid-19 nie meer sou plaasvind nie. Ons behulpsame engele het hulle egter nie deur ’n virus laat stuit nie.  Ons is ongelooflik dankbaar vir hierdie gebaar!

Ons hartlikste dank gaan aan die volgende spesialiste en borge:

Dr. F. Pinheiro (tandarts) en  dr. A. Roux (narkotiseur)

Intersurgical

Schulz Dental Supplies 

Colgate

Safeline Pharmaceuticals 

Akacia Medical 

Dental Warehouse