As jy gewonder het hoe Abraham Kriel Kinderhuis Nylstroom (AKK Nylstroom) die uitdagende tydperk van inperking hanteer, kan jy gerus verder lees wat ons vir jou in die kort en bondige  nuusbrief saamgestel het. Dankie vir jou bydrae tot ons kinderhuis! Elke personeellid en kind het ’n opregte waardering vir wat jou skenking by ons vermag. 

Met die donasies vir ons Warm Winter-projek kon ons duvet-vullers vervang.  Baie dankie vir elke bydrae wat dit moontlik gemaak het! 

We Can het ’n tweede veldtog geloods en 92 voedsel-pakkies aan die kinderhuis voorsien wat uit groente, mieliemeel, sop en hoender bestaan. Baie dankie aan elke persoon wat daartoe bygedra het!

Die Christelike Motorfiets-assosiasie (CMA) het die kinderhuis op 25 Julie 2020 besoek en vir die dogters elkeen ’n pop gebring. Dit het in hulle behoefte aan koestering en versorging voorsien.

Ons kinders was skaars terug by die skool, toe begin die vakansie alweer!  Sekere van ons kinders was nog glad nie sedert 18 Maart vanjaar terug skool toe nie.

Ons drie matrikulante is onseker oor wat die toekoms inhou: datums vir die rekordeksamen is aangepas en die langverwagte matriekafskeid is in die weegskaal. Ons is egter besig om vir twee van ons matrikulante aansoek by verskeie universiteite te doen.

Die inperking eis sy tol in terme van die emosionele gesondheid van ons personeel. In die afgelope maand het twee personeellede bedank en is een van ons kinders weens depressie gehospitaliseer.  

’n Vakature vir huisouers is gevul. Ons is bevoorreg om ons nuwe huisouers, Frik en Ina Botha wat al die pad van die Kaap af kom, welkom te heet. Ons sien uit na hulle insette in ons kinders se lewens.

Misdaad het ook aan ons deur kom klop; op 24 Julie is een van ons Toyota Quantum-bussies by die kinderhuis gesteel!

Die immergewilde sangeres, Corlea, en bekende motiveringspreker, voorkomskonsultant en ontwerper, Elzaan van der Merwe, bied op Saterdag, 8 Augustus 2020 Hartklop van ’n Vrou as aanlyn vertoning, aan. Dié vertoning is ten bate van die Abraham Kriel Kinderhuis Nylstroom (AKK Nylstroom) wat die afgelope paar maande swaar gebuk gaan onder die nasionale inperking en finansiële implikasies daarvan.

In dié inspirerende vertoning sal Corlea en Elzaan vroueharte weer nuwe moed en krag gee met hul woorde van wysheid vir en empatie met die uitdagings wat vrouwees daagliks bied. 

Een gelukkige kaartjiehouer sal ’n gratis voorkomskonsultasie van Elzaan ter waarde van ongeveer R4 500 ontvang. 

Kom geniet en wees deel van ʼn onvergeetlike ervaring. Koop nou jou kaartjies hier by iTickets.